Rykdom hou `n groter bedreiging in vir die kerk as armoede.
Paul Verrayne het nou die dag by `n konferensie oor teologie in die stad (aangebied deur Pen) gesê dat die kerk in Suid-Afrika waarskynlik net soveel eiendom soos die staat besit en bygevoeg: “And we all know what Jesus would have done with that!”
Die afgelope tyd het ek vir `n hele paar kerk-ooms gevra waarom dit dan nodig is dat gemeentes sulke groot somme geld op belegging moet hê. Hulle antwoord was dat dit `n sekuriteit is vir die moontlike maer jare wat voorlê, `n belegging in die toekoms van die kerk.
Dit is dalk nie `n slegte besigheidsbeginsel nie, maar dit is baie swak teologie. `n Belegging in die voortbestaan van die kerk moet onderskei word van `n belegging in die voortbestaan van kerkstrukture en kerkgeboue.
As ons vir Paulus met `n tydmasjien kon in-“beam” en vir hom sê dat daardie gebou met die toring, `n kerk is, sou hy ons eenvoudig nie glo nie. “Ecclesia” was `n beweging, nie `n struktuur nie.
Die vroeë kerk het baie goed gefunksioneer sonder baie van die strukture, geboue en finansiële sekuriteite waaraan ons vandag so vasklou. Hulle grootste bates was juis hulle mobiliteit en waagmoed. Ons groot probleem vandag is dat ons te swaar reis en te veilig probeer speel. Te veel bagasie maak `n mens lomp en stadig. Materiële sekuriteite kan `n mens dalk baie veilig laat voel, maar dit span dikwels ook jou grense.
In Europa is daar vandag heelwat voorbeelde van “kerke” sonder mense (nie omdat die geld opgeraak het nie...). Die geboue en strukture is al wat nog staan. As die mense weg is, moet die kerk mos eintlik ook ophou bestaan? Want die kerk ís mense. Die leë doppe is `n vals illusie, dit getuig van alles wat “ecclesia” nie veronderstel was om te wees nie.
Daar is niks fout met `n kerk wat ryk is nie, maar wel met `n kerk wat ryk bly. Wanneer die kerk geseën word met finansies, eiendomme en ander gawes en selfsugtig daarmee omgaan is daar fout. Jy lees dalk nou hier en verstaan glad nie waarom ek so tekere gaan nie. Min mense weet dit, maar baie gemeentes het behalwe vir `n klomp eiendomme letterlik miljoene rande op een of ander belegging (ek het onlangs weer gehoor van drie gemeentes met beleggings van tussen twee en ses miljoen rand elk).
Dit is natuurlik `n geheim, en ek is seker dat baie finansiële voorsitters se bloed kook omdat dit hier uitgelap word - min dinge is meer heilig in die kerk as geld. Gaan vra `n bietjie vir jou dominee hoe groot is julle gemeente se finansiële beleggings en hou sy reaksie dop (natuurlik is daar ook vandag baie gemeentes wat finansieel swaar trek - wat dit nog erger maak dat sekere gemeentes met miljoene rande in surplus fondse sit en hulle self net verder verryk).
Hier is `n paar praktiese voorstelle vir ryk gemeentes:
Verkoop jou goed en gee die geld vir die armes. Dalk kan gemeentes en sinodes lidmate wys hoe!
As dit te veel gevra is, belê dan eerder jou gemeente se geld in eiendomme. Rig dit in as laekoste-behuisingsprojekte (of gratis behuisingsprojekte?) - eerder as om dit in die bank of geldmark te sit, waar dit niks te doen het met die kernbesigheid van die kerk nie. Let wel, die idee is nie om geld te maak uit mense in nood nie.
Neem `n besluit om meer as 50% van die gemeente se inkomste buite die gemeente te spandeer.
Kry die armste mense in die gemeente om op die finansiële kommissie te dien.
Vat die eiendomskommissie op `n uitreik. Laat hulle byvoorbeeld een aand buite slaap saam met die straatkinders of in `n skuiling vir haweloses.
Gee aan elke gemeentelid `n afskrif van al die gemeente se finansiële state (en beleggings!) - en skryf bo-aan: “Ek was honger en julle het my iets gegee om te eet, dors en julle het my iets gegee om te drink, `n vreemdeling en julle het my gehuisves…”
Moedig gemeentelede aan om hulle geld sommer direk vir die armes te gee – en nie via die kerkstrukture nie.
Die bring van hoop is die kernbesigheid van die kerk. `n Mens kan baie diep teologies hieroor raak, maar die vraag is nie soseer hoe ons hieroor praat nie, maar eerder wat ons doen met wat ons het.
Die verhaal word vertel van `n man wat `n masjien ontwerp het wat teen `n ongelooflike spoed ghries kon vervaardig. “Waar is al die ghries?” vra `n joernalis met die bekendstelling van die nuwe masjien. Die ingenieur antwoord rooi in die gesig dat die masjien, as gevolg van al die wrywing en hoë temperature waarteen hy moet werk, al die ghries wat hy kan vervaardig self weer nodig het om net aan die gang te bly …
Dit is ook die storie van baie kerke vandag. Die geboue, administrasie, strukture en vergaderings van die kerk gebruik dikwels so geweldig baie energie, geld en mannekrag, dat daar maar min oorbly vir die uiteindelike doel waarvoor dit alles oorspronklik veronderstel was om te gaan - en dan word dit wat wel oorbly in die bank gebêre?!
Daar word die laaste tyd baie gepraat oor die morele verval in ons land, gewoonlik met verwysing na `n toename in seksuele losbandigheid, alkoholmisbruik en bedrog. Vir my is een van die grootste morele krisisse van ons tyd nie soseer die sondes van die tradisionele “sondaars” nie, maar die sondes van kerkmense. As jy gemaklik kerk hou met `n paar miljoen rand veilig in die bank (en `n boodskap van liefde verkondig!) terwyl daar grootskaalse werkloosheid en armoede oral om jou is, is dit `n saak van reuse immoraliteit.
Vandag word ons vir die eerste keer werklik gekonfronteer met die besef dat te veel rykdom `n groter bedreiging inhou vir byvoorbeeld die ekologie as te veel armoede. `n Klomp groen wetenskaplikes het somme gemaak en besef dat dit nie in die eerste plek die verskriklike armoede en ekonomiese verval is wat die welsyn van die wêreld bedreig nie, maar eerder die moontlikheid van grootskaalse ekonomiese vooruitgang. Ontwikkeling in veral lande soos Indië en China, dreig om af te stuur op `n ekologiese ramp.
Miskien is dit ook tyd om `n bietjie eerlik in die spieël te kyk na die effek van rykdom op die kerk. Dalk is een van die grootste uitdagings van die kerk vandag nie net om uit te reik na die armes nie, maar om arm te wees saam met die armes. Miskien is die koste te groot?
`n Kerk wat die sekuriteit vir haar voortbestaan in finansiële beleggings vind, is `n ongelowige kerk. `n Kerk wat miljoene rande op belegging het en elke dag verby mense in nood ry, is `n liefdelose kerk. “Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie - hoe kan die liefde van God in hom wees?” (1 Johannes 3:17).
'n Beter belegging in die voorbestaan van die kerk is `n belegging van hoop in die lewens van mense in nood.
Jaco Strydom

No comments:
Post a Comment