Saturday, February 25, 2012

Die Kerk en die Bruid

Die doel van hierdie artikel is om Christene se aandag daarop te vestig dat daar meer in Christenskap is as om kerk toe te gaan en goed te probeer lewe, en dat daar inderdaad 'n baie klein groep Christene gaan wees wat die Bruid van Christus gaan uitmaak, en met wie die Here Jesus eendag gaan trou.
Dit was die begeerte van God die Vader om 'n vrou uit die mensekinders vir Homself te neem, en Hy het inderdaad met Israel getrou, maar het van hulle geskei omdat sy met ander gode gehoereer het. Hy het Israel geskei deur haar 'n skeibrief te gee, maar nie vir Juda nie, omdat die Here Jesus uit Juda sou kom, en dus nie weer sou kon trou nie as Hy vir Juda ook 'n skeibrief gegee het nie. (Jer. 3:8)
Sedert die uitstorting van die Heilige Gees op pinksterdag, is die Heilige Gees besig om 'n bruid vir die Here Jesus te berei. 
Die Kerk.
As 'n mens van die kerk en die bruid praat, sal baie mense dink mens praat van dieselfde ding en ander mense sal weer dink daar is nie so iets soos 'n bruid (in geestelike terme) nie. Die skrif dui egter daarop dat daar wel 'n bruid is en dat dit heeltemal verskiillend en apart van die 'n kerk staan, maar tog deel van die kerk is.
Die kerk het twee betekenisse nl. eerstens die Liggaam van Christus (ook bekend as die gemeente) en tweedens die gebou waarin ons kerk hou, die kerkregering of kerkorganisasie en die ampsdraers saam met die kerk se wette en ordes. Ek praat hier oor die eerste betekenis.
Die kerk is gestig op pinksterdag toe daar met die uitstorting van die Heilige Gees drie duisend siele toegevoeg is tot hierdie kerk. Hand. 2:41  Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring.
Die Here Jesus het ook belowe dat hy sy gemeente op die rots (Homself) sou bou in Mat. 16:18  En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots (petra in Grieks wat staan vir 'n rotsblok wat die Here Jesus is, en nie petros wat staan vir die rots Petrus nie) sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
Ons moet ook bedag wees op die ooreenkoms tussen die liggaam van Adam wat vleeslik en aards was en die Liggaam van Christus (die kerk) wat vleeslik en aards is.
Die kerk bestaan uit twee tipes Christene nl. vleeslike en geestelik Christene. Dit word verduidelik in Romeine 7 en 8. In Rom. 7 spreek Paulus die vleeslike liggaam aan wat altyd net verkeerd wil doen soos in :
Rom 7:18  Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. v.19  Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.
Rom 7:25  Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! (7:26) So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.
Daar is egter 'n groep Christene wat die Here in Gees en Waarheid (gemoed) dien.
Joh 4:23  Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. v.24  God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Ons moet egter altyd in gedagte hou dat geen kerk ons in die hemel sal bring nie. Ook dat die kerk nie aan die einde van die tyd sal hoef rekenskap te gee vir sy goeie, en in baie gevalle gruwelike, dade nie. Slegs mense sal geoordeel word.
 Die Bruid.
Daar is 'n hele paar skrifte wat aan ons die geheimenis van die Bruid uitlig.
Die eerste hiervan is die eerstelingsgerf soos beskryf in Lev. 23:10. Hierdie gerf moet deur die priester as 'n beweegoffer voor die Here gebring word. Dit staan vir die bruid, want u sal sien dat gelyktydig met hierdie offer moet die offer van die lam sonder gebrek (vers 12) ook gebring word. Hierdie is 'n tipe van die eerste stadium van die bruilof van die Lam.
Tweedens verwys ek u na Rom 8:22 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. v.23 En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het (Grieks - be possessed with), ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.
       Die wat die eerstelinge van die Gees besit is die bruid.
Derdens moet ons weer kyk na die voorbeeld van Adam. Net soos die vrou van Adam, nl. Eva, uit sy bene (bene staan vir die geestelike deel) geneem is, net so sal die bruid van Christus (die geestelike deel van sy liggaam) uit sy liggaam (die kerk) uit geneem word as eerstelinge.

Vierdens het ons die beeld in Openbaring van die bruid in die hemel. 

Open. 14:1 :
En ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom honderd-vier-en-veertigduisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe.
En hulle het ’n nuwe lied gesing voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge; en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderdvier-en-veertigduisend wat van die aarde vrygekoop is.
          Dit is hulle wat hulself met vroue nie besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam.

Volgens Romeine is dit slegs vir die bruid nodig om heilig te wees. Rom 11:16  En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook.
In die vyfde plek het ons die verhaal waar die Here Jesus water in wyn verander het. As ons mooi daarna kyk sal ons sien dit was die derde dag (die twee dae wat wys op die twee duisend jaar van die huidige bedeling was verby), daar was 'n bruilof te Kana ('n tipe van die bruilof van die Lam) en die Here Jesus was daar (soos hy by die bruilof van die Lam gaan wees), sy moeder ('n tipe van die Heilige Gees) het gesê die dienaars moet presies doen soos Hy beveel (volg ons die leiding van die Heilige Gees ook so?). Hy het die water (van sy ligaam) verander in die wyn (van sy Helige Gees), en belowe hy sal daardie wyn slegs weer met ons drink in die Koninkryk.
In die sesde plek het ons die gelykenis van die maagde in Matt. 25.
Mat 25:5  En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. v.6 En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet! v.7 Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed. v.8 En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit. v.9 Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself. v.10 En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. v.11 Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop!

Die Vrou.
Die kerk of gemeente of liggaam van Christus waaruit die bruid kom, staan ook bekend as die vrou. Daar is wel twee vroue, maar ons praat hier van die tweede vrou wat in vryheid wandel, nie die eerste wat Israel was, en in slawerny is nie.
Gal 4:23  Maar die een uit die slavin is gebore na die vlees, en die ander een uit die vrye deur die belofte. v.24 Dit is sinnebeelde, want dié vroue staan vir twee verbonde: een, van die berg Sinai afkomstig, wat vir die slawerny kinders baar—dit is Hagar; v.25 want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny. v.26 Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal.
Dit is hierdie laaste vrou waarmee ons onself nie moet besoedel nie. Iemand wat die kerk gebruik om persoonlike en kerklike doelwitte te bereik en ander te verdruk en te vervolg, is besig om homself met die vrou te besoedel en sal nie deel van die bruid uitmaak nie. So bv. is daar al miljoene Christene oor die wêreld vervolg en duisende gedood, wat nie onder die leerstellings van die kerk wou buig nie. In hierdie verband verwys ek na die Katare, Hugenote, Waldense en veral na die (Spaanse) Inkwisisie, wat ek in ander artikels oor die Antichris in meer detail behandel.
As ons na Efes 2:15 kyk, sien ons dat daar vyandskap tussen God en die mens was, en dat die Here Jesus hierdie muur van vyandskap afgebreek het in die vlees … Want Hy is ons vrede, … In meer as een opsig het die kerk weer die vyandskap tussen die mens en God opgebou deur hulle eie wet van gebooie wat in insettinge bestaan.
Slot.
Die implikasies hiervan is ernstig vir ons elkeen.
§  In die eerste plek mag ons, wat die bruid is, nie in die vlees wandel nie.
§  Ons mag nie dinge doen as gemeente op die gesag van iemand wat in die vlees wandel nie.
§  Ons mag nie raad en advies aan ander dierbares gee as ons nie die Here daaroor geraadpleeg het nie.  
§  Ons mag nie iemand tugtig as hy optree in stryd met die kerk oorlewering of insettinge alvorens ons die Here daaroor graadpleeg het nie.
§  Ons mag nie soos die fariseërs maak, soos die skrif sê .. Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie. En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot. En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges.
Laat ons dan uitsien na daardie bruilofsmaal, waar ons met Hom saam die wyn gaan drink Mat 26:29  Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.

 – deur P.K. Odendaal Mei 2003 – gewysig Jan. 2011

No comments:

Post a Comment