Opsomming.
Hierdie artikel is daarop gerig om Christene wat in moedeloosheid en wanhoop lewe, nuwe hoop en perspektief te gee en die geheim van 'n gelukkige lewe in Jesus Christus te voer.
Ons eie valse verwagtinge en hoogmoed laat beland ons in hierdie toestand en dan is dit weer 'n gesukkel om te herstel, terwyl die herstel tog so maklik is.
Daar is twee mooi voorbeelde in die bybel waar 'n persoon gegaan het van beskuldigings teen die Here tot lofprysing aan Hom en altwee het dieselfde geheim uitgevind – en dit is om met die Here self te praat .. al is it net 'n paar woorde
Die eerste en mooiste is die van Jeremia.
In Klaagliedere 3 verwyt Jeremia die Here vir al die moeilikheid wat sy pad langs gekom het, maar hy vertel dit nie vir die Here nie, hy spreek die Here aan in die derde persoon – soos om van iemand te skinder en kwaad te praat.
Klaag. 3:1-16. In hierdie 16 verse vertel Jeremia ons (en die wêreld daarbuite) hoe sleg die Here hom behandel HET, en hoe swaar hy gekry HET. Hy kyk nie na sy huidige situasie nie, maar delf ou koeie uit die verlede uit op.
Van sy beskuldigings wys dat hy verbitterd is oor hierdie omstandighede want in vers 15 praat hy van bitter kruie en wilde-als wat hy ingekry het en waarvan hy versadig is en genoeg gehad het. Ek en u weet ook van tye dat ons so gevoel het, en dit was gewoonlik tye waarin dit nogal goed met ons gegaan het, en ons is eintlik verwytend teenoor die Here omdat Hy ons op 'n vorige geleentheid in die steek gelaat het op 'n stadium wanneer ons gedink het dat Hy moet ons seën. Die feit dat hy ons nie geseën het nie, het meer te doen met sy oneindige genade om ons geestelik op te bou en te toets en ons geloof te leer - wat nie lekker is nie, maar wat noodsaaklik in ons lewens is.
Slegs die feit dat ons verbitterd is, moet ons laat dink dat dit nie die Here se skuld is nie, maar ons eie, want ons het iewers gif of bitter als ingekry toe ons nie opgelet het nie. Daar is genoeg bitter als in die lewe indien ons dit sou wou inneem, maar die skrif leer ons om versigtig te wees om dit nie in te neem nie.
Die voorbeeld hier is van die Here Jesus self. Tydens sy lyding was daar genoeg geleentheid vir Hom om kwaad te raak vir sy omstandighede omdat hy slegs verraad, vernedering, minagting, valse beskuldigings en lyding ondervind het, terwyl Hy liewer eer en erkenning moes ontvang.
Maar wat doen Hy toe sy siel bedroef is tot die dood toe (Mat.26:38) ? 'n Paar interessante dinge :
1. Hy praat eers met die Vader - eers vir 'n uur en toe nog tweemaal vir 'n onbepaalde tydperk.
2. Hy neem nie die wilde als in wat hulle Hom wil gee nie (word nie verbitterd nie). Mat 27:34 en vir Hom asyn, met gal gemeng, gegee om te drink; en toe Hy dit proe, wou Hy nie drink nie.
3. Hy vergewe hulle en reken hulle die kwaad nie toe nie. Luk 23:34 En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.
4. Hy sing 'n loflied. Mat 26:30 En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.
As ons maar nert herdie vier diinge wil doen as ons in sware stryd is, sal die stryd gou verbygaan.
Om terug te kom na Jeremia se Klaagliedere, wat eintlik 'n lofsang moes wees.
Vers. 1.
Dit val mens op dat Jeremia die heeltyd van homself praat .. Ek is die man wat ellende gesien het deur die roede van Sy grimmigheid. Hy is eerste en die Here tweede.
Vers 2.
My het Hy gelei. Enige bedagsame mens verwys na die meerdere eerste soos in Hy het my gelei.
Wat mens veral opval is dat Jeremia heeltyd van die Here praat en nie eenkeer met die Here praat nie. Ons is so lief om vir ander mense te vertel hoe sleg dit met ons gaan en hoe Ons (egos) deur die Here in die steek gelaat is, in plaas daarvan om dit vir die Here te vertel of om met die Here te praat.
Wat mens ook opval is dat meeste van hierdie verwyte nie eers aan die Here se toedoen toegeskryf kan word nie. Soos in hierdie word gesê die Here het hom laat wandel in duisternis sonder lig, terwyl die skrif duidelik sê in Joh 1 dat die Here die lig van die wêreld is, en daarom kan ons aanneem dat dit 'n valse verwyt is.
Vers 7.
Vervolgens verwyt hy die Here omdat die Here hom toegemuur het sodat hy nie kan uitkom nie, terwyl die skrif sê dat ons eie sondes 'n muur tussen ons en die Here opgebou het.
Jes. 59:2 maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.
Dit is dan ook 'n valse verwyt.
Vers 8.
Hy verwyt die Here ook dat die Here nie sy gebed antwoord nie terwyl die skrif in Joh 14:14 .. as julle iets in my Naam vra sal ek dit doen, die teendeel sê.
As slotsom kan ons sê nie een van Jeremia se verwyte was gegrond nie.
Vers 17.
Hier kry ons 'n skielike en wonderlike wending in Jeremia se gesanik – want ewe skielik begin hy die Here direk aanspreek … U het my siel van die vrede verstoot - en terselfdertyd aanvaar hy dat hy self verantwoordelik is vir sy swaarkry … ek het die goeie vergeet.
Vers 18.
Hy besef ook in hierdie vers dat a.g.v. sy gesanik en verwyte, hy sy hoop op die Here vergaan het.
Verse 19 tot 21.
Toe hy in vers 17 besef dat hy die goeie vergeet het, begin hy nadink in hierdie verse van hoe dit kon gebeur.
In hierdie verse dink aan al hierdie swaarkry en verneder hom voor die Here (sy siel het in hom neergebuig), en toe besef hy hoeveel hy het om oor dankbaar te wees (dink aan die hede – nie die verlede) – en toe vlam die hoop dadelik weer op – en toe die hoop opvlam, toe kon hy die Here weer begin prys met 'n lofsang.
Verse 22 tot 32.
Hier bars hy uit in lofprysing teenoor die Here gedryf deur die nuwe hoop wat hy in Hom gevind het (nog steeds ten spyte van sy moeilike omstandighede). Die Psalms (40:3, 65:1, 66:2 en 150:1-6) moedig ons aan om Hom te prys.
Vers 33.
In hierdie vers kom hy tot die waardevolle besinning dat die Here sy swaarkry gladnie geniet het nie, maar dat die Here hom inteendeel baie jammer gekry het in sy omstandighede. Ook dat, al beproef die Here hom, doen die Here dit halfhartig – omdat die Here nie regtig wil hê hy moet swaarkry nie, maar dat hy hom moet bekeer. … want nie van harte verdruk of beproef Hy die mensekinders nie. m.a.w. Die Here se beproef is maar halfhartig vanweë sy oorheersende liefde vir ons.
Vers 37.
Jeremia se gesindheid verander nou so drasties dat waar hy in vers 8 sê die Here laat sy gebed onverhoord sê hy nou in hierdie vers .. Wie spreek daar en dit gebeur, Het die Here dit nie beveel nie ?
Daar het niks gebeur tussen verse 8 en 37 wat Jeremia tot die insig kon bring dat die Here gebed verhoor nie, behalwe sy lofprysing wat nuwe geloof en nuwe hoop in hom gesit het nie.
Verse 38 en 39.
Hy kom uiteindelik in hierdie vers tot die gevolgtrekking dat 'n klaaglied niks help nie, maar dat die mens hom liewer moet bekeer v.39 .. Wat klaag ‘n mens in sy lewe ? Laat elkeen klaag oor sy sondes. Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die Here bekeer…
Hierdie is waarskynlik die belangrikste les wat ons as Christene moet leer.
Verse 42 tot 45.
Soos dit so baie in ons eie lewens gebeur, het hierdie hoop en lofprysing gestop en weer plek gemaak vir verwyte en bitterheid. Net toe Jeremia weer oor die verlede begin dink, het hy weer die Here begin verwyt, maar hy spreek tenminste nog die Here direk aan.
Verse 50 en 54.
Die gevolg van sy nuutste gesanik bring hom weer by die beklaenswaardige toestand waar hy net van die Here praat, maar nie met die Here nie en waar hy weer soos voorheen sy naam voor die Here se naam noem. ... My oog vloei ... totdat die Here .... en in v.54 ... dit is klaar met my.
Ons is so geneig om so gou tou op te gooi - soos Petrus in Mat 26:58 En Petrus het Hom van ver af gevolg tot by die paleis van die hoëpriester, en hy het ingegaan en by die dienaars gaan sit om die einde te sien.
Mens weet nie eintlik welke einde Petrus hier wou sien nie.
Ook Thomas se opmerking is tipies van hierdie moedelose toestand waarin mens kan kom. Joh 11:16 En Thomas, wat Dídimus genoem word, sê vir sy mededissipels: Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe. - en dit nadat die Here in vers 9 vir hom gesê het dat iemand wat in die dag wandel nie struikel nie.
Verse 55 tot 57.
Gelukkig het Jeremia in sy vorige dwaling besef hy hoef net weer direk met die Here te praat om uit hierdie kuil te kom, en ons sien so duidelik die uitwerking van hierdie wonderlike raad.. vers 55 Ek roep U aan Here, uit die onderste kuil. U hoor my stem !!!!! Hy besef dadelik dat hy weer in die onderste kuil geraak het, maar hierdie keer weet hy dat die Here antwoord as hy roep. vers 57 .. U kom nader die dag as ek U aanroep.
Die volgende voorbeeld is van Asaf in Psalm 77.
In verse 5 tot 10 dink Asaf aan die ou tyd (goed of sleg) en in vers 8 praat hy VAN die Here.
Soos met Jeremia kom die wending in verse 11 tot 13 toe hy die Here as U begin aanspreek.
Die heerlike gevolg is weereens soos in Jeremia se geval, dat hy in verse 14 tot die einde die Here prys vir al die wonderdade wat die Here gedoen het.
No comments:
Post a Comment