Sunday, July 15, 2012

Die Belofte en die Lydsaamheid

Ek het alreeds geskryf oor hoe ons op die Here moet wag. As ons dit verstaan en beoefen, is die volgende stap om die lydsaamheid deelagtig te word – naamlik om gewoond daaraan te word om op die Here te wag.

Die skrif sê in Hebr. 10:36 Want julle het lydsaamheid nodig, om, (nadat julle die wil van God gedoen het) die belofte te verkry.

Die Here gee ons baie beloftes en ons moet verstaan dat ‘n belofte nie ‘n gawe is nie, dis slegs ‘n belofte van ‘n gawe, en as dit nie ‘n gawe is nie, gaan ons dit nie dadelik kry nie. Soos ek dus ‘n belofte verstaan is dit ‘n manier om my lydsaamheid te leer of selfs om my te toets of om ‘n prys van my te verlang.

Toe die Here God aan die slang gesê het dat die saad van die vrou sy kop sal vermorsel, was dit nie asof dit nou enige tyd gaan gebeur nie – Die Here Jesus moes eers die prys kom betaal. Die Vader het wel ‘dinge geroep wat nie bestaan nie asof hulle bestaan ’ wat Hy kan doen omdat hy Almagtig is en Hy het geweet wat hy sê en watse lyding dit homself en sy seun sou kos.

Oral in die skrif sien ons dat die Here beloftes aan die mense gemaak het, sommige het gou gerealiseer, maar ander het eeue en millenia geneem. Trouens sommige het so lank geneem dat die mense aan wie die beloftes gemaak is, dit later heeltemal vergeet het, en was baie verras dat dit na baie jare waar geword het.

§    Dink weer aan Gen 3:15 Hy sal jou die kop vermorsel. Ek dink die vyand het hierdie woorde onthou toe die Here Jesus aan die kruis hang 4000 jaar later.
§    Voorbeeld van Abraham wat moes aftrek na die beloofde land en na ‘n hongersnood amper sy vrou verloor in Egipte.
§    Voorbeeld van Dawid wat as koning gesalf is en toe eers moes jare se oorloë voer teen Saul.

Ons kan troos kry in Hab. 3:17  Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie - v.18  nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.

No comments:

Post a Comment