Saturday, July 14, 2012

Vrye Wil en Keuse

Ek het lank geneem om die omvang van vrye wil te verstaan. Ek het gedink dat God die Vader my net as pion gebruik om sy wil uit te voer en dat ek dus uiteindelik niks as ‘n pion in sy hande is nie.

Dit is verkeerd en as mens as volg daaraan dink is dit maklik om te verstaan:
God die Vader kan nie foute maak nie, maar ek as mens kan foute maak. As ek dus foute maak, maak ek dit uit eie vrye wil en nie as ‘n instrument of pion wat deur die Vader rondgeskuif word na sy wil nie.


Ek gebruik dus my eie vrye wil om enige keuse uit te oefen. Sommige van my keuses is goed vir my en ander mense en sommige sleg, maar as ek daarop let om die regte keuses te doen sal dit met my goed gaan volgens die wet van die natuur wat bepaal dat ek maai wat ek saai.

Die Here wil egter dat ons uit eie vrye wil vir Hom kies sodat ons hom nie uit dwang sal liefhe nie, maar uit eie vrye wil :
Phm 1:14  Maar sonder jou goedkeuring wou ek niks doen nie, sodat jou goedheid nie uit dwang sou wees nie, maar uit vrye keuse.

Ek het wel die inspirasie van die Skrif en Heilige Gees nodig om my te help om die regte keuses te maak, maar nogtans maak ek baie foute. Ek hoop om u hiermee te help om meestel die regte keuse te maak.

Ons dink dat ons in der waarheid slegs een groot keuse hoef temaak, naamlik om die Here Jesus as ons persoonlike saligmaker aan te neem en dat die res vanself sal volg. Die waarheid is egter dat ons elke dag baie keuses moet maak en dat as ons dit nie maak nie, die duiwel inkom en dit vir ons maak deur sy verleidende invloed. Ons moet dus ingestel wees op die dinge wat ons pad langs kom, en optree deur die regte keuses te maak.

Die invloede wat op ons inwerk om die verkeerde keuses te maak is as volg :
1 Joh 2:16
Die begeerlikheid van die vlees.
Die begeerlikheid van die oe en die
Die grootsheid vna die lewe
Oorlewering en leringe van die ou mense. Mar 7:9  En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou.
Die guns van mense. Gal 1:10  Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.

Dit is duidelik dat ons wel die keuses het deur in die skrif te kyk na Deu 30:19  Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag,Deu 30:20  deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae.

Dit is dus nie net een keuse om die Here Jesus te kies nie maar aanhoudende keuses om die lewe te kies en nie die dood nie, die seen en nie die vloek nie, vrede en nie oorlog of konflik nie, vergifnis en nie vervolging nie, vriendskap en nie vyandskap nie, vriendelikheid en nie norsheid of ongeskiktheid nie, goed en nie kwaad nie, geregtigheid en nie sonde nie, samewerking en nie weerstand nie, die Here se instellings en nie die van mense nie.

Volgens Deut 28:1 tot 14 (lees dit) sal al daardie seeninge ons pad langs kom as ons die Here en sy insettinge kies.
Jes 7:15  Dikmelk en heuning sal hy eet as hy weet om te verwerp wat kwaad is en om te kies wat goed is.

Watter goeie keuses kan ek maak :
Kies die lewe en die Here Jesus en sy versoeningsbloed en redding.
Kies Liefde en nie haat nie
Kies blydskap en nie onvergenoegdheid nie
Kies vrede en nie rusie nie.
Kies lankmoedigheid en nie kortgebondenheid of kwaadword nie.
Kies vriendelikheid en gasvryheid en nie norsheid en ongenaakbaarheid nie.
Kies goedheid en nie vervolging of kwaadstekery nie.
Kies sagmoedigheid en nie weerstandigheid nie.
Kies selfbeheersing en nie opvlieendheid nie
Kies vergifnis en nie vervolging, wraak of beskuldigings nie.
Kies die weg van die Heilige Gees en nie die oorlewering van ou mense nie.
Kies die guns van God en nie die guns van mense nie.
Kies vreuge en nie smart nie.
Kies die waarheid en nie die leuen nie.
Kies die verlossing en nie die verdoemenis nie. 
Kies die geregtigheid en nie die ongeregtigheid nie.
Kies die bereidheid van die evangelie van Vrede en nie die stilbly nie.
Kies die gebed en nie die biddeloosheid nie.
Kies die vryheid van die gees en nie die begeerlikheid van die vlees nie.
Kies die grootheid van God en die ewige Jerusalem en nie die grootsheid van die lewe nie.
Kies gehoorsaamheid en nie wederstrewigheid nie.
Kies die gesindheid van die Here Jesus en nie die wereldsgesindheid nie.

As u nie daadwerklik kies nie, dan kies die duiwel of die mense dalk vir u. Na Dawid se oortreding moes hy een van drie dinge (hongersnood, vervolging of pes) kies wat die Here hom moes aandoen wat nie so lekker was nie.

Wat was Judas en Agitofel se keuses toe hulle teen die Here gekies het.
Wat was Adam en Eva se lot toe hulle ongehoorsaamheid gekies het.

Kies derhalwe nou terwyl die keuse nog u eie is en nie die van die omstandighede waarin u deur verkeerde keuses beland het, of die keuses van ander mense of die duiwel nie.
As u nie Ja se of kies vir Here en sy saak nie, neem die Here, die mense en die duiwel aan u se nee en u kies die wêreld en sy begeerlikhede !!

– deur P.K. Odendaal Aug 1007

No comments:

Post a Comment