Sunday, July 15, 2012

Die Smaad van Christus

Hebr 13:12 Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely. 13 Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra.
Die Here Jesus het as teken van die liefde van die Vader ons smaad gedra : Rom 15:3 Want ook Christus het Homself nie behaag nie, maar soos geskrywe is: Die smaadhede van die wat U smaad, het op My geval.

As ons dan ons liefde aan die Vader wil betoon behoort ons ook Sy smaad te dra.
Die kenmerke van sy smaad is :


§  Hy het alleen ons smaad gedra – want die skrif sê Hy het buitekant die laer gegaan. Ons behoort ook sy smaad wat op ons val, alleen te dra al is dit nodig om buitekant die laer te gaan.
§  Hy het ons smaad gedra en nie sy eie nie - en so behoort ons sy smaad te dra – nie ons eie nie.
§  Hy het dit gewilliglik en met sy hele hart gedra.

Die Here laat nie enigeen toe om sy smaad te dra nie. Dit is ‘n voorreg en genade wat min kere ons pad langs kom. In die skrif en in my eie lewe, het ek dit net ‘n paar keer teegekom dat die Here mense gekies het of toegelaat het om sy smaad te dra.
Een so voorbeeld is Dawid.     Dawid het die waarde van die smaad van die Here geken want in Ps 69:8 (‘n Psalm van Dawid) sê hy : 8 Want om U ontwil dra ek smaad, bedek skande my aangesig. 9 Vreemd het ek vir my broers geword en ’n onbekende vir die seuns van my moeder. 10 Want die ywer vir u huis het my verteer, en die smaadhede van die wat U smaad, het op my geval. .... 21 Die smaad breek my hart, en ek is verswak; ja, ek het gewag op medelyde, maar verniet; en op vertroosters, maar het hulle nie gevind nie
Laasgenoemde is ook ‘n profesie van die kruisiging, maar ons het ‘n voorbeeld in die skrif waar Dawid die smaad wel gedra het.

In die gedeelte waar Simei vir Dawid vloek sien ons die eienskappe van iemand wat die smaad van die Here reg dra. Simei vloek hom omdat hy ‘n bloedvergieter is en beskuldig hom van baie dinge – (heel waarskynlik valslik).

Dawid was besig met die oorloë van die Here wat hy in opdrag van koning Saul doen (1 Sam. 18:17) en in die tweede plek sien ons waar Nabal met Dawid skoor soek, sy vrou Abigial na Dawid toe gaan en sê : en vergeef tog die oortreding van u dienares, want die HERE sal sekerlik vir my heer ’n bestendige huis stig, omdat my heer die oorloë van die HERE voer en in u hele lewe in u geen kwaad gevind is nie.

Terwyl Simei dan vir Dawid vloek, besef Dawid dadelik dat dit die smaad van die Here is : 2 Sam. 16:7 Toe vra Abísai, die seun van Serúja, vir die koning: Waarom moet hierdie dooie hond my heer die koning vloek? Laat ek tog oorstap en sy kop afslaan! 10 Maar die koning sê: Wat het ek met julle te doen, seuns van Serúja? As hy vloek, en as die HERE aan hom gesê het: Vloek Dawid! wie mag dan vra: Waarom maak jy so?

Moses het ook die smaad van die Here geken : Hebr. 11:24 Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, 25 omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê, 26 en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning.

Derdens het ons die klassieke geval van die man aan die kruis aan die regterhand van die Here Jesus. Die man aan die linkerhand (Gestas) smaad die Here en sê : Luk. 23:39 En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons.

Maar die een aan die regterkant (Dismas) dra dadelik die smaad van Christus en sê : Luk. 23:40 Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? - 41 ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.

Ons moet mooi verstaan dat dit wat ons die smaad van Christus noem nie regtig die smaad van Christus is nie. Meestal is dit ons eie smaad. As ons iets verkeers gedoen het of iemand gesmaad of te na gekom het, volg daar noodwendig ‘n vergelding waarin ons die straf daarvan moet dra. Dit is ons Christene se geliefkoosde verweer, dat as iemand ons smaad vir ons verdiende loon, ons dit as die smaad van Chsistus beskou, omdat ons Christene is. Dit is niks anders as my eie smaad nie.

Dit is slegs die smaad van Christus as dit ‘n smaad is teen ons op grond van iets wat ons nie gedoen het nie, maar die Here of wat ons vir die Here gedoen het deur sy leiding.

Ek kan net van eenmaal onthou dat ek die smaad van Christus moes dra en dit het ‘n paar jaar gelede gebeur. Ek het dadelik geweet dis die smaad van Christus en die Here het my ook toestemming gegee om dit buite die laer te dra. Die seëninge wat ek daardeur gekry het bly my nog nog by en dit was vir my ‘n eer om dit te dra.


Ek herhaal – dis ‘n voorreg en genade om die smaad van Christus te dra. 

No comments:

Post a Comment