Sunday, July 15, 2012

Die belofte moet eers sterf

Ons ken die beloftes van die Here en weet dat dit ja en amen is, maar ons kom tog keer op keer op 'n plek waar ons voel dat die Here ons in die steek gelaat het en nie sy belofte aan ons vervul nie. Ons raak dan soms mismoedig en selfs kwaad vir die Here.
As ons egter oor die saak nadink, sal ons vind dat die Here ons nie in die steek gelaat het nie, maar dat ons die belofte verkeerd verstaan het (sy weë is nie ons weë nie) , of the tyd vir die vervulling van die belofte misgetas het (Pred. 3:1  Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd) of dat die belofte nie eers gesterf het nie.
Dit is oor die laaste rede wat ek hier wil praat.


Dit is in elk geval nie 'n eenvoudige geval van belofte en vervulling wat met mekaar gepaard gaan soos oorsaak en gevolg nie - alhoewel dit ook baie hiermee te doen het.
'n Belofte van die Here is soos sy Woord wat uitgaan en ons kan die gelykenis van die saaier ook hierop van toepassing maak. Die saaier saai hierdie beloftes, maar sommige daarvan val langs die pad en word deur voëls opgeëet, 'n deel val op rotsagtige plekke en word verskroei en sommige verstik in dorings. Selfs die wat in goeie grond val kom nie dadelik op nie. Maar bo alles moet al hierdie saad eers sterf voordat dit vrug kan dra.
As ons hierdie beloftes as saad oorweeg, sal ons dit beter verstaan en ook verstaan dat die belofte eers moet sterf. In Gal. 3:19 staan … totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom. In hierdie geval verwys die saad na die Here Jesus wat ook eers moes sterf, want alhoewel ons die belofte van verlossing gehad het, was dit eers moontlik om dit deelagtig te word nadat hiedie Saad gesterf het – en dit is daarom dat Johannes die Doper met hierdie twyfel in sy hart rondgeloop het – nie wetende dat hierdie belofte eers moes sterf. Ons sien hy verkondig in Joh. 1:29 .. daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem – en dan later stuur hy sy dissipels na die Here Jesus met die vraag – Luk 7:20 … is U die een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag ?

Voorbeelde van pelgrims wat die belofte ontvang het.
As mens na die ou pelgrims in die bybel kyk, dan merk mens ook op dat dit vir hulle ook nie dadelik opgekom het nie. Ek noem 'n paar voorbeelde van mense wat die belofte ontvang het, maar nooit verkry het nie (omdat God iets beters oor ons beskik het) en die saad eers na hulle dood sou opkom :
Heb 11:32  En wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek van Gídeon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal, v.33 wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop, v.34 die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het. V.35 Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om ‘n beter opstanding te kan verkry. V.36 Ander weer het die proef van bespottinge en geselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. V.37 Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel — v.38 die wêreld was hulle nie werd nie—hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond. V.39 En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie,
Die skrif se ook in Hebr. 11:13 In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.

So seker soos die woord van die Here is – hulle sal uiteindelik hieride belofte sien.
Vir die wat wel die belofte ontvang het, het dit ook maar lank geneem - totdat hulle mismoedig geword het en die belofte vaarwel toegeroep het. Vir hulle moes die belofte eers sterf, maar gelukkig het hulle die heil van God aanskou voordat hulle gesterf het.
Jakob het die belofte gekry dat sy broers voor hom sou buig, maar dit het slawerny, die tronk en 'n hongersnood gekos voordat dit gebeur het.
Abraham moes uit sy familie uit trek na die beloofde land, maar dit het hongersnood in Kanaan en 'n verleentheid in Egipte gekos voordat hy daarin kon gaan woon - en selfs toe het hy die belofte verwaarloos deur Lot daarin te laat woon.

Die gelykenis van die saaier.
Die hele skrif draai om die saaier wat die goeie saad saai en op die kostelike vrug wag, maar baie dinge gebeur wat dit laat lyk dat die saad nooit sal ontkiem en vrug dra nie.
Een so gelykenis is die van die landbouer in Luk. 20. wat die wingerd geplant het en op reis gegaan het. Toe hy later van die vrug van die wingerd wou hê, het hy sy boodskapper gestuur (profete) , maar die landbouers het hom geslaan en met leë hande teruggestuur. Daarna het hy nog boodskappers gestuur, maar die het hulle ook mishandel totdat hy oplaas sy eie seun (die here Jesus) gestuur het, wie hulle doodgemaak het – sodat hulle (die satan) al die vrug van die wingerd (siele) kon kry.
Die vrug van die wingerd is gereed en die Groot Landbouer (God) wag om die vrug daarvan te eet.

Laat ons sien hoe is hierdie wingerd gesaai Mark. 4:3.
'n Gedeelte het langs die pad geval en die voëls van die hemel (duiwels en ongeloof) het gekom en dit opgeëet. Daar is baie siele wat nie op die (pelgrims) pad is nie, maar op wie hierdie saad val, maar hulle hoor die woord en vergeet gou en hulle sal nooit kan sê dat hulle nooit van die saad gekry het nie.
'n Ander deel het op rotsagtige plekke geval … en toe die son opgaan het dit verskroei .. en verdroog. Ons harte word rotsagtig van sonde, bitterheid, ongeloof en twyfel en alhoewel osn weet wat reg is verskroei ons gou as die beproewinge kom.

Die antwoord.
Ons kry die antwoord in 1Kor. 15:36  Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie. V.37 En wat jy saai - jy saai nie die liggaam wat sal word nie, maar 'n blote korrel … maar God gee dit 'n liggaam soos Hy gewil het.
So ook met die saad van die Here. Hy vervul sy belofte nadat Hy dit gesaai het in die vorm van 'n korrel en wek dit op in 'n vorm soos Hy dit gewil het, maar Hy wag daarop soos die landbouer : 
Ek verstaan dus dat die vorm en die volheid van die belofte nie is soos ek hom ontvang het nie, maar soos God daaraan gestalte gee nadat dit gesterf en weer opgekom het.
Onthou die skrif in Jakobus 5:7  Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het.
Ons moet ook maar wag vir die beloftes totdat ons siele die vroeë en laat reëns ontvang het, want die Here wag ook geduldig daarop.
As beste voorbeeld hou ek aan u voor die belofte van die Vader in Joh 3:16 Want so lief het God die mense gehad …

Hy praat hier niks van dat die Here Jesus moes sterf nie - maar daardie belofte moes sterf op die kruis sodat ons die belofte van redding kon verkry en Johannes het vooruit gesê, maar nie besef, dat die Lam van God eers moes sterf nie.
Sal ons nie ook maar die belofte in die verte sien en glo en begroet nie en soos die landbouer daarop wag met geduld nie.
         
Dwarsdeur die bybel loop hierdie tema op verskeie vlakke.
Die aarde moet eers vergaan voordat die nuwe Jerusalem kan kom.
Die Seun moes eers sterf voordat ons kon begin lewe.
Ons moes self ook eers sterf voordat ons saam met Hom kon lewe.

deur P.K.Odendaal.
Opgestel 19 Julie 2008. Opdateer 26 April 2010
          

1 comment:

  1. Excellent article. Keep posting such kind of info on your blog.
    Im really impressed by your blog.
    Hi there, You have done a great job. I'll certainly
    digg it and individually suggest to my friends.
    I am sure they'll be benefited from this website.
    pr3sp4birlik
    Regards - casino

    ReplyDelete