Friday, July 13, 2012

Die Eenvoud van die Evangelie

Een van die  aspekte wat my ons Kerk toe getrek het was die eenvoud van die evangelie. Toe die Here my siel gered het, het ek by baie kerke, predikers en ander mense hul weergawe van die evangelie gehoor en was dit naderhand vir my so kompleks dat ek in verwarring gekom het. Wat my nog meer gehinder het was dat ek nie teenoor ander mense kon getuig nie want ek was nie in staat om so komlekse evangelie te verstaan en oor te dra nie.

Toe ek in nuut in die Kerk ingekom het,  het ek dus verwag wat Naaman verwag het in 2 Kon 5;11 .. “Naaman het gedink Elisa sal sekerlik na hom uitkom en staan en die naam van die Here sy God aanroep en sy hand oor die plek heen en weer beweeg en die melaatsheid wegneem. Is Abana en Farpar, die riviere van Damaskus , nie beter as al die waters van Israel nie. Kon ek my nie daarin was en rein word nie.


Die redenasie van die tradisie waar ek uitgekom het was presies dieselfde – maar ek kon nie van my melaatsheid (sonde) daar ontslae raak nie en die riviere daar (die doop) was nie die regte riviere nie.
Maar toe ek hier kom het ek die eenvoudige raad gekry – bely jou sonde en laat jou doop.

Paulus wys daarop (in 1 Kor 1:26) : “Want let op julle roeping broeders : julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie, maar wat dwaas is by die wêreld het God uitverkies, en wat niks is, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

Die eerste apostels en gemeente het (Hand. 2:46) “ van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet. en in 2 Kor 1:12 skryf Paulus .. “want ons roem is dit : die getuienis van ons gewete dat ons in eenvoudigheid en reinheid van God, nie in vleeslike wysheid nie, maar in genade van God in die wêreld verkeer het.

In die skrif sien ek ook dat die Vader en Seun die mense in eenvoudigheid of eenvoud geantwoord het.
In die argument tussen die fariseers en die sadduseers oor die opstanding van die dode vra hulle die Here Jesus wat hy sê en sy eenvoudige antwoord is dat God die vader van Abraham Isak en Jakob is en dat God nie ‘n God van die dooies is nie (Lukas 20:37)

Soos reeds genoem sê Elisa vir Naaman – “gaan was jou sewemaal in die Jordaan”
Trouens ek sien nêrens in die Bybel dat die Here Jesus lang verduidelikings oor enigiets gehad het nie. Sy voorbeeld en sy woorde was kort en kragtig.

Vir die ryk jong man sê hy ‘onderhou die gebooie” en “kom hier en volg my”
Vir die man wat eers sy vader wou begrawe se die Here Jesus “Laat die dooies hul eie dooies begawe, en volg my” (Matt 8:22)

Die Here is nie geintereseerd is ons kwalifikasies en kennis nie en dit is baiemaal ‘n weerstand sodat die Here nie sy doel in ons lewens kan bereik nie. As ek bid en vra dat die Here vir my ‘n saak op ‘n spesifieke manier moet uitwerk dan dink ek altyd aan die koortjie “God has a thousand ways to answer every prayer” – ek het gewoonlik nie meer as een of twee rate daarvoor nie.

Ek het onlangs getuig dat as die Here wil hê ek moet Hom soos ‘n zombie dien dan is ek ook bereid daarvoor. Dis miskien oordrewe maar in my eie geval is dit nodig om tot so besef te kom aangesien ek ‘n raadgewende professie het en dit vir my moeilik is om nie vir die Here raad te gee nie. Ek kan u egter verseker uit al my ondervindinge dat al die raad wat ek al vir die Here en mense gegee het na lang oorweging geblyk het die verkeerde raad te wees en is ek vandag vas oortuig dat die enigste raad van die Here af kom (en dit altyd eenvoudige raad).

Baie van ons wat hier sit het ook al baiekeer raad van die Here ontvang en dit was deurgaans so eenvoudig dat dit vir ons bykans belaglik gelyk het, maar as ons dit wel gevolg het, het dit vir ons ten goede gewerk.
Ons het ook verlede Sondag hier gehoor welke raad Elia by die Here gekry het – om in die droogte na ‘n weduwee te gaan vir onderhoud – dit lyk totaal verkeerd .
Iets wat my ook baie opval is die manier waarop die Here ons goeie raad gee deur ons tot selfondersoek te dwing deur ons slegs ‘n eenvoudige vraag te vra.

            Vir Kain vra hy “Waar is jou broer”
            Vir Bileam vra hy “Wat maak die hierdie mense by jou”
            Vir Elia vra hy “Wat maak jy hier” (onder die besembos)
            Vir Adam vra hy “Waar is jy”

Sy opdragte aan die mens is net so kort en eenvoudig. Vir elkeen van ons sê Hy “Gee my jou hart”


deur P.K. Odendaal Nov 2001

No comments:

Post a Comment