Friday, July 13, 2012

Die Tyd van die Here

Een van die moeilikste dinge in ons geestelike loopbaan is om die regte tyd aan te gryp om ‘n opdrag van die Here uit te voer, of om te besef wanneer die Here se beloftes aan ons in werking tree. Die duiwel staan altyd reg om ons te verwar en te besluier om nie die regte tyd van die Here aan te gryp nie.
Die Here het ‘n bepaalde tyd vir elke saak.


Pred 3:1 ALLES het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd.
Hebr. 4:16 staan : Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.
Luk 19:44 - En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.
Matt 28:9 - Het U hier gekom om ons voor die tyd te pynig?
Ps. 75:3 - As Ek die regte tydstip aangryp, oordeel Ék regverdig.

Ek wil drie voorbeelde uit die skrif aanhaal – een waar die persoon te laat was, een waar die persoon te vroeg was en een waar die persoon op die regte tyd was.
Te laat. Johannes die Doper het gekom om die paaie van die Here Jesus gelyk te maak en moes toe van die toneel af verdwyn of deel word van die Koninkryk van God. Hy laat egter die geleentheid verbygaan vir beide en hou aan preek totdat daar ‘n verwarring onder die kinders van die Here begin ontstaan het en ook tot so ‘n mate dat die betekenis van die doop verdwyn en net ‘n doop van Johannes oorgebly het.
In die eerste plek lees ons dat Johannes die oortuiging gehad het om deur die Here Jesus gedoop te word, maar maak die fout om Hom op die verkeerde tyd te vra (die tyd was daar vir die Here Jesus om gedoop te word), maar later toe die Here Jesus se dissipels ook mense doop, het hy nie van die geleentheid gebruik gemaak nie.

Tweedens skaar hy hom nie by die Here Jesus en sy dissipels nie, maar gaan op sy eie aan met ‘n boodskap waarvan die tyd verbygegaan het. Dit veroorsaak toe stryery met die Here Jesus se dissipels oor die vas (Matt 9:14) en verder het daar verwarring oor die doop ontstaan. Joh. 3:26 - En hulle het na Johannes gekom en vir hom gesê: Rabbi, Hy wat saam met u oorkant die Jordaan was, van wie u getuig het, kyk, Hy doop, en almal gaan na Hom toe. Later hoor ons weer die mense sê Jesus doop meer mense as Johannes.
Derdens was die mense toe nie meer seker wie Jesus werklik was nie en sommige het gesê hy is Johannes die Doper (Matt 16:14).

Laastens merk ons op in Hand. 19:3 dat die mense hulle met die doop van Johannes laat doop het, en dat hulle hulle moes laar oor doop in die naam van die Here Jesus.

Die einde van Johannes is as gevolg hiervan baie ongelukkig – hy beland in die tronk, hy raak in ongeloof (is u die een wat sou kom) en hy word deur die Here Jesus as kleiner as die kleinste in die Koninkryk van die Hemele bestempel. Matt 11:11 - maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.

Isak en Jakob was weer te vroeg. Ons sien in Gen. 27 dat Isak oud geword het en sy oë swak was en dat hy besluit het om Esau te seën voordat hy doodgaan. Rebekka maak gou ‘n plan en laat Jakob in sy plek seën. Isak sou nog lank nie sterwe nie en het die Here (wat Jakob wou seen) vooruitgeloop.

Hierdie voortydige plan van Rebekka het vir Jakob en Rebekka duur te staan gekom omdat Jakob ‘n duur prys by Laban (wat sy loon tien maal verander het) moes betaal vir sy bedrieëry en Rebekka het hom nooit weer gesien nie. Dit was nie regtig nodig vir Rebekka en Jakob om die Here te help om Sy belofte waar te maak nie, want ons sien dat nadat Jakob 20 jaar by Laban gewerk het, hy weer sy Vader Isak by Mamre ontmoet het, terwyl Rebekka al dood was !

Dawid was betyds. Ons sien in die skrif toe sake vir die Israleliete op die donkerste raak, het Dawid TOEVALLIG daar aangekom en die sterk filistyn vernietig met een klippie !

Alhoewel die tyd van Dawid reg was, moet ons ook let op die faktore wat Dawid die oorwinning gegee het.
1.    Hy moes die smaad van Israel (1 Sam 17:26 - van Christus) dra, die smaad van sy broer en die smaad van Goliat.
Sy broer sê : 1 Sam 17:28 - Waarom het jy eintlik afgekom, en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die woestyn afgegee? Ek ken jou vermetelheid en die boosheid van jou hart, want jy het afgekom om die geveg te sien.
2.    Hy moes deur baie stryd alreeds weet wat kos dit om die reus (duiwel) in sy lewe te oorwin. 1 Sam   7:34 - U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar ’n leeu of ’n beer kom en ’n stuk kleinvee uit die trop wegdra, dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood.
3.    Hy het die stryd erken as die stryd van God en nie van die mens. Die skrif sê dat Goliat die slagordes van Israel uitgedaag het, maar Dawid sê : Goliat het die slagordes van die Lewende God uitgedaag.
4.   Die tyd moes reg wees. Die skrif sê Goliat het die slagordes van Israel vir 40 dae uitgedaag. Veertig dae staan vir ‘n tydperk van voorbereiding en Dawid het geweet dat “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teenstanders”.
5.  Hy het Goliat nie deur krag of geweld oorwin nie, maar deur my Gees so sê die Heer !!
6.  Hy was die kleinste onder die kinders (ook in homself). Die skrif sê : 1 Kor 1:27 - en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam.
7.  Hy het die oorwinning behaal deur die wonde van die Here Jesus (die 5 klippe).
8.  Hy moes in die naam van die Here staan al kon dit sy dood beteken. 1 Sam 17:45 - Jy kom na my met ’n swaard en met ’n spies en met ’n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare,
9.  Hy het in die geloof en sonder vrees gekom. 2 Kor 1:9 - Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek; wat ons verlos het uit so ’n groot doodsgevaar en nog verlos; op wie ons hoop dat Hy ook nog sal verlos.

 – deur P.K. Odendaal Feb 2005

No comments:

Post a Comment