Sunday, July 15, 2012

Die Bruilof van die Lam

Dis aan almal bekend dat die profesie in die Bybel wys op die week van die voorbereiding van die bruid en die bruilofsweek waartydens die Here Jesus met sy bruid die bruilof van die Lam gaan trou.

Om net weer terug te keer na die eerste week :
In Joh. 11:1 het ek reeds daarop gewys dat Lasarus ‘n tipe is van die opstanding van die dode. Hy was 4 dae in die graf voordat hy uit die dood opgewek is. Dit staan vir die 4 000 jaar vanaf die geboorte van Adam tot op die dood van die Here Jesus. Die Here Jesus het die dooies in die doderyk opgewek met sy besoek aan die doderyk : Hef op julle hoofde o poorte.

Hierna volg daar 2000 jaar of twee dae : Joh 11:6 – Toe die Here Jesus hoor dat Lasarus siek was het Hy 2 dae vertoef in die plek waar hy was.
Hierdie twee dae kan ons ook vind in Hosea 6:2 - Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe.
Verder is die twee dae ook in Joh 4:39 - Toe die Samaritane dan by Hom kom, het hulle by Hom aangedring om by hulle te bly; en Hy het daar twee dae gebly. Die Samaritane staan vir die heidene.

Let ook op die gelykenis van die man wat op die pad onder die rowers (soos ons) verval het. Die barmhartige Samaritaan het die herbergier 2 pennings gegee (Luk 10:35) om vir hom te sorg totdat hy (Die Samaritaan) sou terugkom.  Onthou hy het met die arbeiders van sy wingerd (ons) ooreengekom om hulle een penning per dag te gee (Matt 20:2).
Nog ‘n meer treffende voorbeeld hiervan kry ons uit die stuk waar die vrou op die sabbat genees is. Lukas 13:16 - Maar hierdie vrou wat ’n dogter van Abraham is, wat die Satan dink daaraan! - agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag verlos word nie?

As mens aan die 18 jaar dink vind jy dat dit 6 570 dae (jare) is en daar is 430 jaar tekort vir die 7 000 jaar. Hierdie 430 jaar wat die Here se volk nie gebonde was nie vind ons in  Gal. 3:17 - Maar ek sê dít: die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie.

As mens na die heel eerste wonderwerk kyk vind mens dat dit ‘n beeld is van die bruilof van die Lam. Die skrif sê in Joh 2:1 - EN op die derde dag was daar ’n bruilof te Kana. Dit wys op die verstryking van die twee dae en die aanbreek van die derde dag. Maar let op die profetiese tekens op hierdie bruilof. Daar staan 6 kanne wat vir die reinigingsgebruike daar moes wees. Dit staan vir die 6 000 jaar en Hy verander dit in wyn en laat die hoofdienaar (die HG) weet om dit te bedien.

Hierdie 6000 jaar totdat die Here die water in wyn verander het spreek van die wyn wat Hy belowe het om eenmaal weer saam met ons in die Koningkryk van die Vader te drink : Matt 26:29 - Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.

As ons egter die hele verhaal van die bruid en die bruidegom wil lees hoef ons net in Gen 23 te lees van dhoe Abraham (Die vader) vir Isak (sy seun) ‘n bruid (Rebekka) laat haal het deur Eliëser (die HG) in ‘n ver land.

Die ander voorbeeld is die bruid van Adam – wat uit sy liggaam gemaak is.

No comments:

Post a Comment