Sunday, July 15, 2012

Lofsang op die Lydensweg

Ek wil vandag 'n lofsang aanhef oor die lydensweg. Sommige van u mag dink dat dit nie 'n onderwerp is waaroor mens 'n lofsang kan aanhef nie, maar as u lank daaroor gaan nadink, dan sal u vind dat dit een van die kosbaarste elemente van u geestelike lewe moet wees.

As die Here die gawe van Genade aan ons gee, dink u Hy gee ons iets wat ons nie nodig het nie. Nee, Hy gee dit sodat ons met sy genade die lydensweg kan volg.


Die dogma wat baie Christen kerke en Christene vandag glo is die volgende :
My Vader is die koning van die heelal en is tot alles in staat. Sodra ek iets nodig het (ongeag wat) gee Hy dit vir my, want sy woord sê alles wat julle my sal vra in die naam van my seun sal ek julle gee. As ek dus enigiets gevra het, moet ek net glo en dit sal my ten deel val. Trouens ek behoort selfs berge te kan versit as ek net die geloof het. As ek 'n probleem het, kan ek net die Vader bid en Hy sal 'n legioen engele beskikbaar stel om my te help. Ons besit alles soos die broer van die verlore seun. As ons siek is of iemand sien wat siek of gebreklik is, is dit geen probleem nie. Ons bid net vir hom en hy is gesond. Hierdie staan bekend as die 'prosperity' leer.

Alhoewel al die bogenoemde waarhede uit die bybel is, het ek dit self nie so maklik gevind nie en as ek die geskiedenis van die ou pelgrims, Paulus en die Here Jesus lees vind ek ook dat hulle dit nie te maklik gehad het nie.
Trouens, net na Saulus se ontmoeting met die Here Jesus sê die Here vir Ananias in Hand. 9:16 ..  Ek sal hom toon hoeveel hy vir my naam moet ly. Hierdie word die lydensweg genoem.

Laat ons eers na die ou pelgrims kyk in Hebr. 11:26 … Moses het die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning.

Vanaf vers 32 : En wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek van Gídeon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal, 35 … en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om ’n beter opstanding te kan verkry. 36 Ander weer het die proef van bespottinge en géselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. 37 Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel.
38 die wêreld was hulle nie werd nie - hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond. 39 En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, 40 omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.

Verlede keer, oor die genade, het ek gesê dat hierdie genade ons moet inspireer om die Here en die broers en die sondaars te dien. Paulus sê trouens in 2 Kor 6:1 … en as medewerkers vermaan ons julle ook dat julle die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie … en gaan dan aan deur sy eie lyding op te noem … maar in alles beveel ons ons aan as dienaars van God, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede; 5 in slae, in gevangenskappe, in oproere, in arbeid, in slapelose nagte, in hongerly; 6 in reinheid, in kennis, in lankmoedigheid, in vriendelikheid, in die Heilige Gees, in ongeveinsde liefde; 7 in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter- en linkerhand; 8 deur eer en oneer, deur slegte en goeie gerug, as verleiers en tog waaragtig; 9 as onbekendes en tog goed bekend, as sterwendes en kyk, ons lewe, as getugtig en tog nie gedood nie; 10 as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie en tog alles besit.
Hy gaan voort in 2 Kor 11:23 : Is hulle dienaars van Christus? - ek praat in uitsinnigheid - ek nog meer: in arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer, in doodsgevare dikwels. 24 Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. 25 Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ’n nag en ’n dag het ek op die diepwater deurgebring - 26 dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; 27 in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid. 28 Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes. 29 Wie is swak en ek is nie swak nie? Aan wie word ’n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie? 30 As daar geroem moet word, sal ek in my swakhede roem. 31 Die God en Vader van onse Here Jesus Christus, geseënd tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie. 32 In Damaskus het die goewerneur van koning Arétas die stad van die Damaskéners laat bewaak om my te vang; 33 en ek is in ’n mandjie deur ’n venster in die muur neergelaat en het aan sy hande ontkom.

As ons na die Here Jesus self kyk vind ons die volgende :

Hy is in 'n krip gebore, Toe hy pas gebore is, moes Hy al vlug vir Herodus, Met die begin van sy prediking in Nasaret wou hulle Hom van die krans af gooi, Hy het nie 'n plek gehad waar Hy sy hoof kon neerlê nie, Hy het geen lewensmiddele soos bv. geld gehad nie, Hulle het Hom vals beskuldig, gekruisig, geslaan ens. Jes 53 … Hy was verag en deur die mense verlaat, ’n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ’n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. en Ps 22
.. Maar ek is ’n wurm en geen man nie, ’n smaad van die mense en verag deur die volk. 8 Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê: 9 Laat dit aan die HERE oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom! Baie stiere het my omsingel, sterkes van Basan het my omring. 14 Hulle het hul mond teen my oopgespalk soos ’n leeu wat verskeur en brul. 15 Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande. 16 My krag is verdroog soos ’n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood. 17 Want honde het my omsingel; ’n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe. 18 Al my beendere kan ek tel; hulle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer! 19 Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.

Die Here het dus 'n goeie plan en doel met hierdie lydensweg wat ons ook na sy voorbeeld moet volg.

1.     Die lydensweg is verder sodat ons getuies vir sy naam kan wees : Petrus sê in 1 Pet 2:20 … Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly - dit is genade by God. Dus eerstens is die lydensweg daar om die genade te ervaar en te aanvaar. Hoe dikwels weier ons om die genade te ervaar of te aanvaar en sukkel ons in ons eie krag voort.

2.     Matt 10:17 … Maar pas op vir die mense; want hulle sal jul oorlewer aan regbanke, en in hulle sinagoges sal hulle julle gésel. 18 En ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot ’n getuienis vir hulle en vir die heidene.

3.     Derdens omdat dit ter wille van sy naam is : Luk 21:17 … En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam.
Omdat ons dan so in sy voetspore kan wandel. Hy het die lydensweg volkome gewandel. Is ook gehaat : Joh. 15:18 … As die wêreld julle haat , moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. … en Joh. 15:24 .. en tog het hulle My sowel as my Vader gehaat.

4.     Vierdens omdat dit lydsaamheid werk. Rom. 5:3  …  omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk. En ons het die lydsaamheid nodig .  Hebr. 10:36 … Want julle het lydsaamheid nodig, om ,nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry.

5.     Vyfdens omdat dit beproefdheid bewerk : Rom 5:4 … en die lydsaamheid werk beproefdheid en

6.     Sesdens omdat dit hoop wek. Rom 5:4 … die beproefdheid wek hoop; 5 en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

7.     Sewende : Omdat dit ons gehoorsaamheid leer : Hebr. 5:8 … Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; U sal met my saamstem dat dit die enigste manier is om gehoorsaamheid te leer. Ek weet nie van 'n ander manier nie.

8.     Om sy liefde aan ons te bewys en ons die bekering uit genade uit te skenk. Openb. 3:19 … Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.

9.   Dit help ons om die troos te leer ken.2 Kor 1:7 ..  En ons hoop vir julle is vas, omdat ons weet dat net soos julle deelgenote is aan die lyding, so ook aan die troos. As ons dus deelgenote aan die lyding is, is ons ook deelgenote aan die troos.

10.  Sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek; 2 Kor 1:7.

11.  Om die medelye en ontferming van God aan ons te openbaar. Jak. 5:10 .. Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het. 11 Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.

12.  Om die belofte te verkry. Hebr 10:36 Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Reeds hierbo daarna verwys.

13.  Sodat ons volmaak en sonder gebrek kan wees. Jakobus 1:4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.

Vir die mens lyk hierdie lydensweg nie lekker nie, maar as ons eendag in die ewige heerlikehid opgeneem word, sal ons sê soos Rom 8:18 … WANT ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. Paulus roep ook uit in Rom 7:24 … Ek ellendige mens!


Wie sal my verlos van hierdie liggaam van die dood. Dit is die Here Jesus - (deur hierdie lydensweg).

Ek sien trouens dat hierdie lydensweg soveel goeie dinge in my lewe uitwerk dat ek noual met oortuiging die Here kan prys en dien in vreugde en blydskap. Dat ek nie nodig het  om te murmureer nie omdat .. Rom 8:28 ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk.

Dis duidelik dat ek die kruis moet opneem en selfs die kruisiging deelagtig moet word (Rom 6:6 en Gal. 2:20 .. ek is met Christus gekruisig) Dink u hierdie dinge sien op aangename omstandighede ? Nee dit sien op die lydensweg.

Ek wil afsluit met 'n persoonlik getuienis. Ek het 'n kliënt gehad sowat 20 jaar gelede wat waarlik die Here gedien het en wat vir my 'n voorbeeld was. Op 'n stadium het dinge vir hom verkeerd geloop en hy, wat skatryk was, het alles en ook sy vrou in die proses verloor. Net voor dit het die Here persoonlik met my kom praat oor sy omstandighede en die Here sê die volgende vir my : Ek moes die donkie ry op pad na Golgota - wat is hy beter as ek !

Die skrif sê in Rom 6:8 … As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. 

No comments:

Post a Comment