Sunday, July 15, 2012

My krag word in Swakheid volbring

Ons spartel meer as een dag in ons eie krag rond om dinge vir onsself en vir die Here te doen en meeste van die tyd vermag ons niks nie, omdat ons nie opmerk dat die Here ons eie planne en krag weerstaan sodat Hy sy planne en krag in ons kan volbring.

Die opskrif kom vanaf Joh. 3:30.. Hy moet meer word, maar ek minder.
Die here kyk nie na ons bekwaamhede en besittings nie – hy wil ons gebruik soos ons is. Hoe swakker ons in onsself is, hoe beter kan Hy ons gebruik en daarom moet Hy ons in ‘n sekere sin eers afbreek om ons diensbaar te maak.
Die voorbeelde wat ons in die skrif kry om hierdie stelling te staaf is menigvuldig en ek haal ‘n paar aan om dit te illustreer.


As ons die Israeliete uit Egipteland moes uitlei sou ons duisende mense bymekaar maak met baie wapens om die Egiptenare te oorwin, maar die Here neem EEN man, Moses, wat nie eers goed kan praat nie en stuur hom met sy STAF na Egipteland.

Maar eers  breek hom oor 40 jaar in die woestyn af om hom diensbaar te maak totdat Moses wat so kragtig was om ‘n Egiptenaar dood te maak self sê :
1. Wie is ek dat dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israle sou uitlei.
2. Ag Here, ek is nie ‘n man van woorde nie … want ek is swaar van mond en swaar van tong.
3. Here, stuur maar iemand anders

Die Here het wel Moses se eie staf gebruik (as mens dit ‘n besitting kan noem) en maak dit so bruikbaar dat dit later die Staf Van God genoem word.
Die Here beosek Gideon by die parskuip en sê : Wees gegroet dapper held. Gideon sê weer vir die Here : Waarmee sou ek Israle verlos ? Kyk, my geslag is die swakste in Manasse, en ek self die geringste in my familie. Dit is die soort van persoon wat die Here nodig het.

Hy gaan egter op tipies menslike wyse tewerk en kry vir hom 32000 manskappe, maar die Here sê vir hom : Rigters 7:2 .. Die manskappe by jou is teveel vir My om die Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen my beroem deur te sê : My eie hand het my verlos.
Jakob word gekies om Israel te word, maar hy het nog teveel goed : Hy het die eersgeboortereg, die seën van Isak deur bedrog verkry, maar die Here neem hom eenkant en lei hom uit sodat hy met slegs sy staf oor die Jabbok rivier gaan.

Josef word so vol van homself deur die Here se beloftes en die guns van sy vader Jakob dat die Here hoim aan hierdie selfde Midianiete oorgee en hom sonder enigiets (selfs nie sy staf nie) na Egipteland laat gaan en laat hom slefs in die tronk sit om hom voor te berei om tweede in bevel te word en sy familie te red.

Die Here het iemand nodig om Goliat te verslaan en stuur die seun Dawid met ‘n slingervel op dit te doen.

Die Here het ‘n koning vir Israle nodig en stuur Samuel na Isai om Dawid as koning te salf. Isai bring al sy seuns voor Sameul, maar laat die geringste by die skape, want dit was vir hom duidelik dat Dawid nooit koning kon word nie.
Ook die skrif is duidelik oor hierdie onderwerp :

1Cor 1:25  Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense. v.26 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; v.27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; v.28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, v.29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
1 Cor 2:3 Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing; v.4 en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, v.5 sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.
1 Kor 15:42 So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; v.43 daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag.
2 Kor 13:4 Want al is Hy gekruisig uit swakheid, lewe Hy tog uit die krag van God. Want ons is ook swak in Hom, maar ons sal saam met Hom vir julle lewe deur die krag van God.

Die Here sê vir Paulus.. My genade is vir jou genoeg (jy het niks ekstra nodig nie) .. word my krag nie in swakheid volbring nie.

Hanna se gebed som dit vir my mooi op in 1 Sam. 2:4Die boog van die helde is verbreek; maar die wat gestruikel het, is met krag omgord. v.5 Die wat versadig was, het hulle vir brood verhuur; maar die wat honger gehad het, rus. Selfs die onvrugbare het sewe gebaar, maar sy wat ryk aan kinders was, het verwelk. v.6 Die HERE maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom. v.7 Die HERE maak arm en maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy. v.8 Hy rig die geringe op uit die stof, uit die ashoop verhef Hy die behoeftige, om hulle te laat sit by die vorste en hulle ‘n erestoel te laat beërwe. Want aan die HERE behoort die pilare van die aarde, en Hy het die wêreld daarop gevestig. v.9 Die voete van sy gunsgenote bewaar Hy, maar die goddelose mense kom om in duisternis; want ‘n mens oorwin nie deur krag nie.


No comments:

Post a Comment